Ek het die Here leer ken, tot geloof in God en bekering gekom in 2005 in Dubai terwyl ek as lugwaardin vir Emirates-lugredery gewerk het.
Ek het in Tokio in ’n gelukkige maar nominale Bhoeddhistiese gesin grootgeword. Ek het nooit van God of enigiets oor die Bybel geweet nie. Op laerskool het ek vir die eerste keer met die Bybel in aanraking gekom tydens ons weeklikse Bybelklas in die Protestantse Christenskool waarin ek was. Ons is deur ons Amerikaanse Bybelonderwyser uitgenooi om ‘n Christensomerkamp in Amerika by te woon. In 1995 het ek die Word of Life-somerkamp in die staat New York bygewoon en die evangelie vir die eerste keer gehoor. Ek het daar op die altaaroproep gereageer. Ek het gedink dat daar geen rede was om nee te sê nie, maar ek het nie regtig verstaan wat dit beteken het om tot bekering te kom en te glo nie. Ek het begin kerk toe gaan, maar na drie jaar, tydens my universiteitsjare, het ek opgehou om kerk toe te gaan en daarom het ek ook gedink ek het “opgehou” om ’n Christen te wees.
Na universiteit het ek werk as lugwaardin in Dubai gekry. Die Here het my daar in die hart van die 10/40-venster weer na Hom toe teruggeroep. Ek het tot geloof in Jesus gekom en is geestelik versorg deur broers en susters wat lief was vir die Woord. Ek het begin honger na die weë van die Here en was in ’n omgewing waar almal om my die Here met hul hele verstand, siel en krag wou dien. Ek wou as vrou wat Bybelse waarhede oor vrouwees nastreef, graag geestelik groei. Dit was ook toe dat ek my Suid-Afrikaanse man by ons kerk ontmoet het en in 2008 met hom getroud is.
Ek het Revive Our Hearts deur die boek Lies Women Believe ontdek. Ek het besef hoeveel leuens van Satan ek blindelings geglo het en hoe vernietigend dit was. Dit het my gelei na Revive Our Hearts se potgooie, asook al die wonderlike en gratis aanlyn hulpbronne. Die Here het dikwels Nancy se leringe gebruik om my hart diep te raak, en ek was oortuig van my dwaasheid en wêreldse ingesteldheid. Ek het gesien hoe maklik dit was om net die uiterlike “reg te maak” en godsdienstig voor te kom, maar die Here kyk na ons harte.
Die huwelik het baie van my sondige, selfsugtige en trotse hart blootgelê. Revive Our Hearts-materiaal was vir my ’n kosbare “metgesel” tydens daardie vroeë huweliksjare en is dit steeds tot vandag toe. Soos ek in Christus gegroei het, het die Here vir my ’n passie gegee om die Woord te gebruik om ‘n dissipelskappad met vroue te stap. Ek deel dikwels episodes of 30-daguitdagings van die Revive Our Hearts-potgooie om vroue rondom my aan te moedig om die Here met hul hele hart te soek.
Nadat ons in 2014 na Suid-Afrika teruggekeer het om nader aan my man se ouers te wees, het die Here vir my ‘n nuwe groep vroue in George gegee met wie ek saam kon leef en kon mentor. Dit was ’n groot verrassing toe ek gehoor het dat Nancy self George toe sou kom! Hoe kosbaar was dit nie om saam met vroue wat ek hier in George leer ken en liefkry het, te kon hoor hoe sy waarheid verkondig.
So het ek ook vir Wilmie van ROH South Africa in George ontmoet. Deur haar aanmoediging, wat ek oor die jare so waardeer het, en haar kontakte het sy my verlede jaar vertel van die Revive Our Hearts Japannese span. As ’n gelowige uit ’n onbereikte bevolkingsgroep het ek ’n groeiende begeerte gehad om God se Koninkrykswerk in Japan te doen. Ek het egter steeds verantwoordelikhede tuis, in my kerk en gemeenskap gehad, en ek was onseker hoeveel ek werklik kon bydra. Nadat ek gebid en Sy wil gesoek het, het die Here vir my my vrees om te faal gewys. Ek het besef dat wat ek ook al kon aanbied, ek dit sou aanbied asof vir die Here. My begeerte was om dit wat my as ’n nuwe Christen uit ’n nie-Christelike agtergrond gehelp het, naamlik om Bybelse vrouwees volgens die Skrif te verstaan, met ander te deel. Ek het geweet die Here sou my help om Hom te dien.
Ek het dus verlede jaar by die Japannese span aangesluit. Ons is ses vroue wat in die VSA, Japan en Suid-Afrika woon. Ons het almal iewers in ons lewe met ROH-materiaal in Engels kennis gemaak en werk nou daaraan om Nancy se leringe in Japannees te vertaal. Ons fokus op Seeking Him-eenminuut episodes, en my man help om die oudiomateriaal te redigeer. Ons is in die heel eerste fase om om ons span op te bou en om van die materiaal te vertaal.
Ons grootste uitdaging is dat die Japannese kultuur glad nie Christelik is nie. Daarom neem dit meer tyd om teologiese denkrigtings so te vertaal dat vroue wat dit hoor, dit kan verstaan en daarmee kan identifiseer. Ons span is nog klein en dit voel of die taak wat voorlê te groot vir ons is. Ons herinner mekaar egter gereeld daaraan om nie die dag van klein begin gering te ag nie – een episode op ’n slag, een blogplasing op ’n slag, een hoofstuk op ’n slag - getrou en in gebed. Hierdie werk behoort aan die Here en Hy sal ons in staat stel. Ek is so dankbaar vir elke geleentheid om Sy Koninkryk te dien en hoe spesiaal dit is om my “ewigheidsusters” regoor die wêreld deur die ROH-bediening te ontmoet. Bid asseblief vir ons span – dat ons getrou en vol moed sal wees.
Met dankbaarheid en liefde in Christus. Yuri
|